Drie geslagte het gebou aan Herholdt’s
Daar is nie baie ondernemings in die land wat na ‘n bestaan van 80 jaar nog altyd in dieselfde familie is nie. Dit kan egter gesê word van Herholdt Meubels, op Middelburg in the Kaapprovinsie, wat vanjaar sy 80ste verjaardag vier. RJ Herholdt het hom reeds voor 1900 op Middelburg gevestig.
Hy het van Hanover gekom en was ‘n man wat vir die handel bestem was. Hy het perdekarre en tweedehandse meubels verkoop en ook verfwerk gedoen.
Sy seun, SJ (Faan), was die vierde seun van RJ Herholdt en is in 1909 op Middelburg gebore. Op 17-jarige leeftyd word hy ‘n leerling haarkapper by sy broer Tol en het hy op 20 reeds sy eie salon met vyf stoele gehad. Dit was in 1929. Vir daardie dae was dit ‘n besondere agtermekaar plek, wat bekend gestaan het as The French Hairdressing Salon.
Stigting
Die rede waarom 1930 as die ampetlike stigtingsdatum van die Herholdt-groep beskou word, is dat Faan Herholdt in daardie jaar begin het om radio’s te verkoop, veral in windlaaiers gespesialiseer het en daarby saam nog horlosies ook verkoop het. Dit het hy alles gedoen vanaf die perseel in Meintjiesstraat. Omdat hy ook meubels en ander huishoudelike toebehoere begin verkoop het, het die onderneming so uitgebrei dat hy in 1931 opgehou het om hare te sny. Reeds in 1941 het hulle na die huidige gebou in Markstraat verhuis en is die erf langsaan ook later gekoop en ontwikkel.
In 1957 is die dubbel verdiepinggebou wat aan Smidstraat grens, by die 1941-gebou in Markstraat gevoeg. In 1999 is die hele gebouekompleks vernuwe en pryk die gerestoureerde kompleks nou daar. In 1956 het die huidige voorsitter, mnr Piet Herholdt, as verkoopsman by die familieonderneming aangesluit.
Piet Herholdt onthou vandag sy pa as ‘n pynlik netjiese mens wat baie presies was in alles wat hy gedoen het. Op sy dag het hy bekend gestaan as die bes-geklede man van die dorp. Hy was baie korrek en uiters streng en het besigheid geëet, gedrink en geslaap.
“Wat ek van die onderneming weet, het ek alles van my pa geleer. Hy was ‘n man wat met niks begin het, maar met ondernemingsgees en harde werk, tesame met ‘n natuurlike aanleg vir die sakewêreld, uitstekende vooruitgang gemaak het,” sê Piet vandag.
Familiesaak
“My pa het baie aan my vertel hoe hy Saterdagmiddae wanneer die ander manne rugby speel, die distrik ingevaar en windlaaiers gaan verkoop het. Dit was sy sport. Hy was ‘n uiters bekwame verkoopsman en het geleef vir koop en verkoop. Ek het van kleins af in die onderneming grootgeword en daar was by my nooit enige twyfel dat ek ook eendag by die familiesaak sou inskakel nie.” Reeds in 1953 het die belange van die Herholdt-familie uitgebrei toe Faan Herholdt saam met vyf ander mense WC Turpin se
Apteek and Medisynefabriek oorgeneem het. Dit bestaan vandag nog onder die naam Karroo Apteek, maar is nie meer deel van die groep nie. Die fabrieksbelange staan deesdae bekend as Playboy, vervaardigers van onder andere manstoiletware.
Toe Piet Herholdt dus by die onderneming aansluit, was dit reeds ‘n goed gevestigde saak enhet hulle reeds sedert 1941 ook meubels in die onderneming verkoop. Toe Faan Herholdt in 1961 oorlede is, het hy ‘n gevestigde saak aan sy familie nagelaat.
Colesberg
Reeds in 1962 is meubels op ‘n agentskapbasis vanuit die perseel van SM Venter op Colesberg verkoop. In 1964 het Colesberg ‘n volwaardige tak geword. In hierdie stadium was daar op Middelburg vier blankes in diens, en op Colesberg is Willem Kruger as takbestuurder aangestel. Later is die gebou aangekoop en hulle doen vandag nog van dieselfde perseel op Colesberg sake. Die gebou is in 1965 deur die groep aangekoop en is in Augustus van daardie jaar opgeknap en sien vandag nog net so daaruit.
Intussen is ‘n tak ook in 1963 op Burgersdorp begin in ‘n gehuurde perseel en was daar ook in een stadium op Cradock, Humansdorp en De Aar takke. Die Beaufort-Westak is in 1976 onder die naam Binnekeur van PJ du Toit oorgeneem en in 1969 het ‘n afdeling van Herholdt’s, Indecor (1 September 1969), tot stand gekom. Hier is veral op matte, gordyne en binnenshuisversiering gekonsentreer. Dit het onder die leiding van Katryn van Heerden gestaan.
Derde geslag
En wat sê die derde geslag Herholdt van sy pa Piet? “Net soos my oupa, is my pa ‘n natuurlike verkoopsman. Hy het in die onderneming grootgeword en ek het maar altyd aanvaar dat ek ook eendag in die onderneming sal werk. Ek het van kleins af geweet ek gaan by Herholdt’s werk en geweet ek sal moet wikkel om saam met my pa voor te bly. Hy het altyd vir my gese, ‘kom werk wanneer jy nog jonk is, nie wanneer jy oud is nie, want werk gaan hy in elk geval werk!’ “Nog iets wat my pa my geleer het, is
dat jy nêrens sal kom as jy altyd net self wil werk nie. Jy moet ander mense vertrou en take delegeer om te kan vooruitgan en uitbrei. Ek het in dié ‘besigheidskultuur’ grootgeword, met die wete dat gehalte, diens en goeie produkte die slagspreuk van die onderneming is. Vakansies het ek maar altyd los werkies gedoen en gehelp verkoop, en toe ek vir my pa sê ek wil nou maar kom, het hy eenvoudig vir my gesê: ‘Kom, daar’s nie tyd vir grappies nie. Kom roer jou.’
Top verkoopsman
“My pa is ‘n top verkoopsman, wat so hoor ek, net soos sy pa, ‘n oog vir detail het. Dingetjies wat vir ‘n ander man onbelangrik lyk, is vir hom van die uiterste belang. Hy het ‘n baie breë uitkyk op sake en deurdink ‘n saak baie mooi. Hy weet presies wat oral in die onderneming aangaan.” Pietie vertel ‘n staaltjie uit die dae toe hy op Colesberg bestuurder was. “Ek was so ses maande daar en dit was tyd vir voorraad opname. In die winkel het n geraamde prent van ‘n voël met ‘n gebreekte glas gelê. Ek het geweet my pa sou dié dag kom en die prent het op een of ander manier bo-op ‘n kas beland. Ek was ook nie eintlik spyt daaroor nie, omdat die glas in elk geval gebreek was.
“My pa was nie baie lank in die winkel nie toe hy die prent bo-op die kas gekry en sê: ‘Hier sal hy nie eintlik verkoop nie!’ Dit is sprekend van my pa se oog vir detail, sy aanvoeling vir wat in die onderneming aangaan en hoe hy hom met tot die kleinste detail bemoei het.”
Pietie het op 1 Desember 1984 as ‘n verkoopsman by Indecor op Middelburg begin werk en in Januarie 1985 moes hy, omdat daar probleme op Colesberg was, as bestuurder daar gaan oorneem. Hy het so goed gevaar dat sy pa hom reeds in 1987 na Beaufort-Wes gestuur het om daar as takbestuurder waar te neem en in Maart 1988 is hy terug Middelburg toe as takbestuurder.
Vanaf die begin van vanjaar, presies 80 jaar na sy oupa die onderneming begin het, is hy hoofbestuurder van die onderneming, terwyl sy pa hoofsaaklik by hoofkantoor doenig is en ook aan die groep se ander belange aandag gee. Sy pa is egter nog gereeld, minstens twee dae ‘n week, op kantoor, en is nog altyd presies op hoogte van alles wat gebeur.